Opvanggebied

'n Voorbeeld van 'n opvanggebied. Die stippellyn is die hoofwaterskeiding van die hidrografiese kom.
'n Animasie van die opvanggebied van die Latorița-rivier in Romenië

'n Opvanggebied (drainage basin of catchment basin in Engels) is 'n grondgebied waar alle oppervlakwater van reën, smeltende sneeu of ys saamkom by 'n enkele punt by 'n laer hoogte, gewoonlik die uitgang van die kom, waar die water aansluit by 'n ander watermassa, soos 'n rivier, meer, opgaardam, riviermond, moerasland, see of oseaan. As 'n stroompie dus by 'n spruit aansluit wat op sy beurt by 'n klein riviertjie aansluit wat 'n syrivier van 'n groter rivier is, is daar 'n reeks van toenemend groter (en teen 'n laer hoogte) opvanggebiede. Die Missouri- en Ohio-rivier val binne hul eie opvanggebiede en ook binne die opvanggebied van die Mississippi-rivier.[1]

In geslote opvanggebiede kom die water byeen by 'n enkele punt binne die kom, wat bekend staan as 'n sinkput, wat 'n permanente meer kan wees, 'n droë meer of 'n punt waar oppervlakwater ondergronds verlore gaan.[2] Die opvanggebied sluit alle strome en riviere in wat die water na die sinkput toe voer, asook die grondoppervlakke van waar die water in die kanale invloei.[3]

Die opvanggebied werk soos 'n tregter deur al die water binne die area op te vang en dit na 'n enkele punt te voer. Elke opvanggebied word topografies geskei van aangrensende opvanggebiede deur 'n waterskeiding, buiterand, of komgrens, wat bestaan uit 'n aaneenskakeling van hoër geografiese verskynsels, soos rante, koppies of berge, wat 'n versperring vorm. [2]

  1. "What is a watershed and why should I care?". university of delaware. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Januarie 2012. Besoek op 11 Februarie 2008.
  2. 2,0 2,1 "Hydrologic Unit Geography". Virginia Department of Conservation & Recreation. Besoek op 21 November 2010.
  3. "drainage basin" (in Engels). www.uwsp.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 September 2012. Besoek op 21 Februarie 2008.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search